Skip to content


Gratis Afrikaanse programmatuur

Nuwe en gewilde rekenaarsagteware

Gratis Afrikaanse programmatuur

Postby danroodt » Sat Jan 16, 2010 5:42 pm

Ek is 'n groot voorstander van gratis programmatuur. As dit boonop in Afrikaans kom, kan dit nie beter nie. Dis moeilik om 'n ding wat reeds gratis is, 'n "winskopie" te noem, maar jy verstaan wat ek bedoel. By gebrek aan Afrikaans, gebruik ek gewoonlik die Nederlandse weergawe maar ná 'n ruk gee "downloaden" en "computer" jou sand onder die tande.

Die twee programme wat 'n mens seker die meeste gebruik, is jou e-poskliënt en jou internetblaaier, afgesien nou van jou bedryfstelsel. Daar is Afrikaanse taalpakkette vir sowel Windows as Linux beskikbaar, dus het jy geen verskoning as jou blikbrein met jou Engels praat nie. Trouens, die outjie by Potch-universiteit wat met die vertaling en programmering van Windows in Afrikaans gehelp het, was blykbaar so goed dat Microsoft hom net daar vir twee jaar Ierland toe laat kom het om anderkant vir die anderstaliges te wys hoe dit eintlik gedoen moet word! Praat van 'n Boer maak 'n plan.

'n Hele paar jaar gelede het ek nog Microsoft Outlook vir e-pos gebruik, maar toe my inkassie die 4000-merk oorgesteek het, het die ding net daar omgeval. ("Omval" is Afrikaans vir "crash", in die rekenaarwêreld.)

Dit is toe dat ek Mozilla Thunderbird ontdek het. Destyds was dit nog nie in Afrikaans beskikbaar nie en moes ek met Nederlands tevrede wees, maar blykbaar het die Mark Shuttleworth-stigting bygedra tot die Afrikaanse vertaling van Thunderbird.

Sedertdien was ek nog nooit sonder my Afrikaanse Thunderbird nie, waarvan die jongste weergawe telkens foutloos aflaai. Hierdie gratis, oopbronprogram is by verre die beste e-poskliënt op die mark, veral vir IMAP, wat ek gebruik. Trouens, ek loop al my e-pos deur die PRAAG-domein en Google Apps en tans sit daar oor die 30 000 e-posse in my Inkassie wat Thunderbird sonder moeite hanteer! Ook is ek besig om van my ou e-posse wat ek nog per POP afgelaai het, na Google Apps op te laai en ek skat op die ou einde gaan daar seker so 50 000 e-posse van my in Thunderbird beskikbaar wees.

Image
Die Thunderbird-embleem

Thunderbird beskik ook oor 'n kalenderprogram genaamd Lightning wat as 'n byvoeging ("plug-in") in Thunderbird geïnstalleer kan word en waarmee jy net soos op Outlook jou afsprake met e-posuitnodigings kan bestuur.

Gaan loer na Thunderbird 3.0 se Afrikaanse weergawe en neem hom vir 'n toetsrit; jy sal vir seker nie spyt wees nie.

Aanstaande keer gesels ek bietjie oor twee gratis blaaiers, Firefox (insgelyks 'n Mozilla-produk) en Opera, wat ook in baie gebruiksvriendelike weergawes - en pragtige Afrikaans! - beskikbaar is. Ek mag jou dalk net van jou verslawing aan Oom Bill van Seattle se produkte genees...
Audentes fortuna iuvat - Die geluk begunstig die dapperes
User avatar
danroodt
 
Posts: 3
Joined: Fri Jan 01, 2010 7:37 am
Location: Pretoria

Return to Board index

Return to Programmatuur

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest