G-Connect het pas hul 30 dae Breëbandwydte aanbod tot einde April verleng en ek het besig om dit uit te toets en te evalueer. Meer hieroor by https://gconnect.wirelessg.co.za/home.aspx
Teen R200 vir 9G beloop die koste daarvan R22.22 per Gigabit wat dit een van die heel goedkoopste aanbiedinge tot nou hier plaaslik maak. Dit is verder ? voorafbetaalde, betaal-vir-gebruik opsie, en bevat ook nie enige beperkende kontraktuele voorwaardes nie, behalwe dat jy die 9 Gigabit binne 30 dae moet gebruik.
Ek het aanlyn hiervoor geregistreer en die registrasie en betaalproses het my beïndruk - dit het baie vinnig verloop, met die minimum inligting wat ek moes verskaf. Die betaling self het ook geen haakplekke opgelewer nie.
Nou was ek reg om te kyk hoe vinnig ek my kwota van 9G kan aflaai. Vervolgens het ek het ? gebruikersnaam en wagwoord vir my modem van G-Connect ontvang, wat ek gebruik het om my modem se opstelling te verander. Hierdie proses het ook heel glad verloop. Ek gebruik ook tans Telkom se Do Broadband-pakket, en al wat ek moes doen was om by my Telkom-modem in te log en die nuwe gebruikersnaam en wagwoord in te sleutel.
Nog net een stap oor en ek was oortuig dat ek alles binne 10 minute sou kon afhandel. Na ek die modem se opstelling verander het, moes dit weer van voor aangeskakel word. Nou verskyn ? skerm waar jy met jou persoonlike G-Connect gebruikersnaam moet inteken. Ek het myne ingesleutel en in afwagting die skerm dopgehou. ? Foutboodskap het na ? rukkie verskyn......nog n paar probeerslae, selfs met my bestelnommer, sonder enige sukses....
? Bietjie telerugesteld bel ek die G-Connect helpdiens, op 0860 872 662, half-agt op ? Maandagaand. Ek's aangenaam verras toe Quintin my na ? minuut se wag in Afrikaans bedien....net om te sê dat hy besig is en my sal terugbel....
Na ek ? paar minute gewag het en geen oproep gekry het nie, skakel ek weer. Hierdie keer kan Quintin my help. (natuurlik op die punt om my terug te skakel). Blykbaar werk mens se gewone wagwoord nie vir die 30 dae-voorafbetaalde produk nie. Mens moet die sg "voucher"nommer gebruik wat met die lettes "SV" begin, wat aan jou bestelling gekoppel is. Dis bietjie kripties om te kry en nie so duidelik soos mens dit sou wil hê nie.
Nadat ek hierdie nommer ingevul werk dit soos dit moet! Wat spoed aanbetref kan ek geen verskil sien as ek dit met my Do Broadband 384k/s ADSL 3G pakket van Telkom vergelyk nie
Wat diens aanbetref gee ek hulle 7 uit 10 en ek moet byvoeg dat dit alreeds ? motivering op sy eie is om van Telkom weg te gaan. Die bestel en betaalproses is baie duidelik en daarvoor kry hulle 8 uit 10. Daar is nog bietjie werk oor om die rekeningaktivering te vergemaklik en veral rondom duidelikheid rondom mens se gebruikersnaam en bestelnommer, hiervoor dus 6 uit 10.
Ek het dit nog nie lank genoeg getoets om my uit te laat oor die betroubaarheid van die verbinding en die aflaaispoed nie. Die eerste 24-uur het egter sonder voorval verloop, met ? aflaaispoed wat ten minste gelykstaande, of self marginaal beter is as wat Telkom my gebied het, dus 7 uit 10 hier.
Wat prys aanbetref ook 8 uit 10. Hopelik dink G-Connect nie ernstig daaraan om hulle aanbieding rerig te beëindig nie, want die kompetisie raak nou eers warm...
Besoek gerus ons forum en neem deel aan hierdie en ander besprekings by http://praaggesprek.co.za/